Algemene Vrae

Wat behels behuisingskemas vir afgetredenes?
Behuisingskemas vir afgetredenes kan verskillende formate aanneem:

  • Individuele Titel
  • Deeltiteleiendom
  • Lewens- of woonregte
  • Of ’n kombinasie van bogenoemde

Caves Aftree-Oord is ’n deeltitelskema. Die deeltitelformaat word algemeen gebruik vir die ontwikkeling van aftree-oorde in welke geval die Wet op Deeltitels sowel as die Wet op Behuisingskemas vir Afgetrede Persone van toepassing is.

Wat is deeltitel?
'n Deeltitelontwikkelingskema (gewoonlik na verwys as 'n skema) maak voorsiening vir afsonderlike eienaarskap van dele van 'n eiendom deur individue. Hierdie skemas word beheer deur die Wet op Deeltitels, No. 95 van 1986. Om in 'n deeltitelskema te woon is 'n verbintenis om deel te vorm van 'n gemeenskap wat gebonde is aan reëls en die Wet op Deeltitels. Hoe vestig jy 'n deeltiteleienaarskap en wat presies besit 'n mens?

Die akteregister sluit 'n lys van al die afdelings in die skema in, en spesifiseer die naam en besonderhede van elke eienaar. Jy sal 'n gedeelte koop, plus 'n onverdeelde deel van die gemeenskaplike eiendom. Saamgevat word hierdie eiendom jou eenheid genoem.

'n Eenheid strek tot:

  • die middelpunt van buite- of skeidingsmure;
  • die onderste deel van die plafon; en
  • boonste gedeelte van die vloer.

Wat is gemeenskaplike eiendom?
Die gemeenskaplike eiendom is daardie deel van 'n ontwikkeling wat nie deel vorm van enige afdeling nie. Strukture en areas in hierdie kategorie sluit in:

  • Oprit
  • Tuin
  • Swembad
  • Korridors
  • Hysbak
  • Ingangsportaal
  • Parkeerplek
  • Buitemure
  • Fondasie
  • Roof

Wat is die regspersoon?
Elke skema het 'n regspersoon. Dit is 'n vereniging - nie 'n maatskappy of 'n vennootskap nie - met die vermoë om te kontrakteer, te dagvaar en gedagvaar te word. Al die eienaars van eenhede is lede. Die funksie van die regspersoon is die administrasie en bestuur van die gemeenskaplike eiendom. Die regspersoon neem op twee vlakke besluite:

  • op vergaderings van eienaars
  • op vergaderings van trustees

Wie beheer die regspersoon?

Alle eienaars van eenhede is lede van die regspersoon. Hulle verkies trustees wat beheer voer oor die daaglikse bestuur van die skema. Trustees stel dikwels 'n bestuursagent aan om hulle by te staan.

Die Trustees is verplig om die skema te bestuur in ooreenstemming met die voorskrifte van die Deeltitelwet, die Wet op Behuisingskemas vir Afgetrede Persone en die skema se reëls en enige beperking of opdrag waartoe die eienaars op 'n algemene jaarvergadering besluit (Grondwet).

Trustees word op elke jaarvergadering van die eienaars verkies. As eienaar is jy geregtig om jou as trustee beskikbaar te stel, maar dit is nie verpligtend nie. Die trustees hoef nie almal eienaars te wees nie, en hulle word gewoonlik nie vir hul dienste betaal nie.

Die raad van Trustees by Caves Aftree-Oord bestaan uit 5 lede en ’n Oordbestuurder. Huidiglik verteenwoordig drie van die trustees die eienaars van die Oord en twee trustees verteenwoordig die ontwikkelingsmaatskappy. Sodra die Oord klaar ontwikkel is, onttrek die ontwikkelaars en neem die eienaarsvereniging volle beheer van die bestuur van die Oord.

Die Wet definieer ’n “afgetrede persoon” as ’n vyftigjarige of ouer. ’n Jonger persoon mag wel ’n eiendom besit, maar mag dit slegs bewoon indien een van hy/sy of sy/ haar lewensmaat ouer as 50 is of dit verhuur aan minstens een persoon ouer as 50.

Hoe veilig is ’n belegging in ’n aftree-oord?

Persone wat in aftree-oorde belê, het 'n behoefte aan die beskerming van hul belegging, die beveiliging van hul okkupasiereg en inspraak in die beheer en bestuur van die oord. Die Wet op Behuisingskemas vir Afgetrede Persone, nr. 65 van 1988, bied sekere beskermings- maatreëls aan kopers van eenhede of woonregte in aftree-oorde. Die doel van die wet is derhalwe die beskerming van bejaardes teen uitbuiting deur ontwikkelaars.

Vir 'n voornemende belegger is dit belangrik om vas te stel welke verbande oor die projek geregistreer is. Die lede van só 'n skema het voorkeurregte bo enige verbandhouer, maar die betalingsvermoë van die ontwikkelaar het steeds 'n invloed op die harmonie van die skema hê. Dit is ook van belang dat voornemende beleggers moet vasstel of die beloofde gemeenskaplike geriewe (bv. 'n siekeboeg) reeds voltooi is en, indien nie, wanneer dit voltooi sal word.

Die belegger moet vasstel of die skema deur 'n regspersoon in terme van die Wet op Deeltitel of 'n bestuursvereniging in terme van die Wet op Behuisingsontwikkelingskemas bestuur word.

Bogenoemde beginsels is die riglyne waarvolgens die Caves Aftree-Oord funksioneer. Die projekbestuurspan was reeds betrokke by twee ander aftree-oorde en beskik oor heelwat ondervinding en kennis wat tot voordeel van die nuwe Oord aangewend word. Daar is geen ontwikkelings-verbande oor Caves Aftree-Oord nie.

Mag ek my eenheid verhuur?

Ja, jy mag jou eenheid verhuur. Die Huurders word onderwerp aan dieselfde gedragsreëls en grondwet as eienaars van die eenhede. Die eienaar bly steeds regsaanspreeklik vir alle koste aangegaan. Die eienaar het die opsie om sy Siekeboeg voordele aan die huurder te sedeer vir die tydperk van die huurkontrak mits die huurder jonger as 65 jaar is. Hierdie reëling bly egter onderhewig aan die goedkeuring van die Raad van Trustees.

Wat is die begiftigingsheffing?

By die herverkoop van ’n eenheid, word 10% van die herverkoopprys aan Caves Aftree-oord betaal vir die heffingstabiliseringsfonds. Hierdie fonds, wat deur die Raad van Trustees namens die eienaars-vereniging bestuur word, sal gebruik word om heffings te subsidieer en bydra tot die bestuur van die oord en enige noodsaaklike herstelwerk. Dit sal daarom addisionele fondse tot die bestuur van die Oord bydra terwyl maandelikse koste laag gehou sal word.